Ek weet nie waar om te begin nie, begin ek van waar ek staan en kyk terug, begin ek van die begin af en kyk vorentoe? Miskien moet ek sommer hier begin: “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!”. Van al die geloofs verklaringe in die hele Bybel en wat ooit deur ʼn mens geuiter is, is dit die heel treffendste, die man wat dit gesê het is nie eens bekend vir sy geloof nie. Hierdie man is bekend vir hierdie frase: “So geduldig soos Job”, ek wil nie hier Job ontleed nie, miskien op ʼn later geleentheid. Die punt wat ek wil maak is dat deur gesegdes en spreekwoorde idees in mense se koppe ingeprent word wat die waarheid net genoeg verdraai sodat leuens en onwaarhede makliker opgedis kan word. Nog een ding, Hoe het die HERE Job beskrywe, as geduldig? Nee, die Lewende God, die Skepper van hemel en aarde getuig so van Job: “Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.”
Dit is nou waar die twee paaie skei, die een sê, die geduld van Job en beskryf die gebeure so. “Laai maar op ek sal nie wankel nie ek sal oorkom”. Die ander “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!”. Daar is nog ander gebeure wat hierdie twee paaie beskryf, in Genesis by die sondeval. Daar is die persepsie dat toe Adam gevra was of hy van die boom geëet het dat hy die blaam op Eva geplaas het. Die waarheid is dat hy, Adam die waarheid gepraat het en sy skuld bely het. “Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.” Hier is daar twee maniere om hierdie gebeurtenis te interpreteer. Die een is dat Adam die skuld pak op die HERE omdat die vrou wat aan hom gegee is hom laat sondig het. Die ander is dat toe die vrou vir hom die vrug aangebied het, het hy uit eie keuse van die vrugte geneem en geëet en so aanvaar en bely dat hy skuldig is.
Nou net nadat Adam en Eva tussen goed en kwaad kon onderskei moes hulle kies tussen goed en kwaad. Dit is nounet hier waar die twee gekies het om die waarheid te praat, wat sou ek en jy geantwoord het op hierdie vraag?