Hierdie profeet, die Profeet na wie ons moet luister, dit is Yeshua. Yeshua is nie net sommer ʼn naam nie, daar is groot betekenis agter die naam in Mateus 1 vers 21 lees ons: “en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Vir nou sal ek die kort verduideliking gee. Yeshua is n samestelling van twee woorde die “Ye” verteenwoordig die Naam van God, die “shua” beteken red (Onthou die is net ʼn kort verduideliking ek sal op ʼn later geleentheid meer hieroor sê.) In Hebreeus lees hierdie vers dan so: “Jy moet hom noem “YHWH red” want Hy sal sy Volk red.”
Moses se woorde
Yeshua was hier op aarde vir twee redes, die eerste, om vir ons die Pasga Lam te wees. Die tweede rede om Moses se woorde te vervul Deutremomium 18: 15 tot 20:-
‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister— net soos jy van die HERE jou God by Horeb gevra het toe jy op die dag van die vergadering gesê het: Ek kan die stem van die HERE my God nie langer hoor en hierdie groot vuur nie meer sien nie, anders sterf. Toe het die HERE vir my gesê: Dit is goed wat hulle gespreek het. ‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis. Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe.
Volksgenoot van die Volk van God
As jy nie besny is nie het jy nie deel van die redding wat die bloed van die lam bring nie. Met hierdie uiterlike teken van die besnydenis het jy dan deel van die Volk van God geword, die selfde voorregte en wette geld vir jou en die Israeliete, daar is geen onderskeid nie. Nou moet ons verstaan dat al die rituele en wetlike voorskrifte ʼn oefening is van alles wat goed is en dit dui op ʼn toekomstige vervulling. Met die kruisiging van Yeshua is die Pasga vir ons geoffer, om dan deel te hê aan die Offer moet ons deel van die Volk van God wees, ons moet besny wees, nie in die vlees nie maar die hart. Eers die besnydenis dan die redding, nie anders om nie. As jy dan nou ʼn Volksgenoot van die Volk van God is geld al die wette en voorregte vir jou. Daar is dan net een Wet, maar wat is hierdie Wet.
Deelgenote van die Volk van God
Ons as deelgenote van die Volk van God, Oeps, ek is nie ʼn Israeliet of ʼn Jood of ʼn Hebreër nie, hoe kan ek my dan self sien as deel van die Volk van God? Eers ʼn paar grond reëls, die Ou Testament het nie verval nie, die Nuwe Testament het nie die Ou Testament vervang nie, dit is EEN Geskiedenis. Ons is ook dan geneig om die vers verdelings in die Bybel as individuele gedagtes te sien en die werklike eenheid gaan so tot nuut, so kyk dan na hierdie gedeelte ek het die vers verdelings verwyder:
Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. Die hele vergadering van Israel moet dit hou. En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie. Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. En al die kinders van Israel het dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen. En op daardie selfde dag het die HERE die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings, uit Egipteland uitgelei.
Sommer net gesels oor die Bybel en Bybel stories
Sommer net gesels oor die Bybel en Bybel stories. Dit is net hier waar die begin van twyfel begin, om die geskiedenis van ʼn Volk wat die God die Skepper van die hemel en die aarde vir ons in woord vas gelê het ʼn storie te noem is uit die bose. U sien die Bybel is geskiedenis, dit is geskiedenis van dinge wat gebeur het en die geskiedenis van dinge wat nog gaan gebeur. Die Bybel is nie vir ons gegee om die toekoms te voorspel nie maar om te sien wat vooraf geskrywe is nou ʼn werklikheid geword het. So was dit dan met die geboorte van Christus, die gebeurtenis was vooraf beskrywe en die dag en datum is ook vooraf bepaal en in die Bybel opgeteken. Ja u het reg gelees, die dag en datum is in die Bybel waarop Yesua (Jesus – soos meeste mense na Hom verwys – Meer hieroor later) gebore is, en dit is nie 25 Desember nie.